SONKRING – TV-reeks – lirieke geskryf en gesing deur Helena Hettema

Agtergrond.

Sonkring was ‘n baanbrekerliedjie vir my naby die begin van my sangloopbaan. Ek het alreeds in 1989 op my eerste plaat gesing as lid van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek saam met Lucas Maree, Karlien van Niekerk en Anton.

My loopbaan het begin as aktrise, na ‘n BA Drama, by TRUK vir twee jaar . Tydens die Kommissie van Ondersoek tydperk, het ek ‘n oudisie in 1990 vir Jan Scholtz gaan doen vir die Sonkring-reeks as aktrise vir die rol van een van die Sonkinders wat toe later deur Henriëtta Gryfenberg vertolk is. Die rol het nie ‘n baie gawe mens weergegee nie. Ek het dit tot die finale rondte gehaal en het toe vir Jan Scholtz toevallig gesê: “Miskien weet jy dat ek sing – ek het ‘n kitaar in die kar”. Hy wil toe ‘n liedjie hoor. Kort daarna is ek gebel en gesê: “Jammer jy net die die rol gekry nie en ons het die musiek vir ‘n temalied maar soek woorde daarvoor.”

Ek word toe net vertel : “Die sigeuner is sentraal tot die verhaal – daar is drie meisies in matriek wat uitblinkers is en hulle word die Sonkinders of “Sonkring” genoem. Hulle besoek ‘n sigeuner. Sy lees hulle palms.” Jan het toe gesê “Fokus op haar en die noodlot. Ek gee jou vrye teuels.”

Ek gaan sit toe onder ‘n boom en voel baie geïnspireerd en besluit om die fokus in die vers op die palmlees te plaas asof die sigeuner self praat en hulle moeilike toekoms sien. Die noodlot word ook verspersoonlik.

“Kringend en draaiend o noodlot, jou donker gesig in die wind
Kolkend, veraaiend kring noodlot sy vinger ook so deur jou hand,
Ek sigeunervrou, wat sade van verdriet moet saai,
Ek sigeunervrou kan sien wie verraai –
O Sonkring – op die punt van noodlot se dolk,
O kinders van Goud, wat leed moet vertolk,
O toekoms, hede, vervleg met verlede, O Sonkring

‘n Voetpad wat kronkel O noodlot, kom trap steeds
Jou pad deur die nag, liefde, verlange, roep noodlot
My drange, wat woed teen die wind.
Koor: O Sonkring…

In die tweede versie probeer ek uitbeeld dat die noodlot nie gekeer kan word nie en amper ‘n mag het oor almal.